ATKV-Buffelspoort Vakansieoord
GPS-koördinate: 25º45'46.2" S / 27º29'26.8" E
Minder as ’n uur se ry vanaf Pretoria en Johannesburg lê ATKV-Buffelspoort: die Magaliesbergse oase, en die ideale basis waarvandaan jy die platinumprovinsie se magdom toeriste-aanloklikhede kan verken. Geniet die rypvrye, subtropiese klimaat met warm somerdae en aangename winters.
ATKV-Buffelspoort is bekend vir sy pragtige, lowerryke tuine en grasperke asook ’n ryk voëllewe. Daar is ’n wildplaas net ’n klipgooi van die oord af en die Magaliesberge en Buffelspoortdam bied ’n ryke ervaring vir die avontuurlustige.
ATKV-Buffelspoort bied ’n groot verskeidenheid huisvesting. Daar is volledig toegeruste standaard- en luukse rondawels, elk met ’n eie badkamer, toilet en volledig toegeruste kombuis. Vir gaste wat meer ruimte nodig het, is daar ses- en agtbedwoonstelle met twee badkamers. Alle woonstelle en rondawels het ’n televisie met geselekteerde DStv-kanale. Vir natuurliefhebbers bied Buffelspoort ook ’n volledig toegeruste tentdorp met tenthuise wat elk ’n eie badkamer het en ten volle toegerus is met alle noodsaaklikhede. Vir die tenthuise wat nie oor kombuise beskik nie is daar ’n goed ingerigte gemeenskaplike kombuis met opwasgeriewe. Alle eenhede beskik oor mikrogolfoonde en braaigeriewe.
Kyk gerus of jy Buffelspoort se boom- en grasryke woonwapark met ’n kragpunt by elk van die 200 staanplekke en silwerskoon ablusieblokke kan weerstaan. Baie van die spogstaanplekke is geplavei. Pragtige tentkampeerplekke met skoon en netjiese ablusieblokke maak dit ’n kampeerdersparadys. Alle kampplekke is met braaigeriewe toegerus. Die nuwe skandunet-bedekte, geplaveide staanplekke is ’n groot gunsteling onder kampeerders.
Dié woonwapark is onlangs deur ’n toonaangewende buitelewe-tydskrif, Caravan and Outdoor, as een van die beste tien woonwaparke in Suid-Afrika aangewys.

.jpg)
Terme en voorwaardes [kliek hier]
|