|
In sommige van die mooiste dele van ons land, omring deur kultuurskatte, historiese erfgoed en ander opwindende toeriste-aanloklikhede lê sewe verruklike oorde waar gaste met ongekende gasvryheid verwelkom word.
Elke oord is ’n veilige, ontspanne lushof waar jy jou kan tuismaak vir ’n onvergeetlike gesinsvakansie, ’n inspirerende konferensie of spanbousessie, jou droomtroue of ’n kulturele ontdekkingsreis!
Al die ATKV-oorde spog met gerieflike selfsorgverblyf, woonwaparke en luukse eenhede waarvan die graderings tussen twee- en vierster wissel. Daar’s heerlike eetplekke, sonnige speelplekke, plekke vir salige ontspanning en aksie vir Afrika! Die oorde bied hope pret, soos minigholf, warm- en kouewaterswembaddens, waterwurms, muurbal- en vlugbalbane, springmatte, staproetes, perdry en baie meer vir oud en jonk. Die voordeel van die ATKV-oorde is dat jy per eenheid bespreek en nie per persoon nie. Dit is dus ware bekostigbare gesinsvakansies. Met pretnaweke en vakansies word goeie gesinsvermaak van hoë gehalte gebied wat beloof om almal se plesierspier te kielie. Verder is die oorde regoor Suid-Afrika geleë sodat die ATKV al sy lede en vakansieliefhebbers kan huisves.
AA AKKOMMODASIE TOEKENNINGS
Die AA Travel Guides American Express Accommodation Awards is in 2010 vir die sewentiende agtereenvolgende jaar aangebied. Hierdie toekenningsprogram is die enigste gevestigde meganisme wat kliënte die geleentheid gee om vir gehalte akkommodasie in Suid-Afrika te stem.
Die afgelope 12 maande het ongeveer 47,000 kliënte kommentaar gelewer op ongeveer 1,300 AA Kwaliteitsversekerde of 'n ster gegradeerde instellings regoor die land. Volgens die sameroeper, Vanessa Sand, groei die toekenningsprogram elke jaar en was 2010 ook geen uitsondering gewees nie. Volgens haar hou die erkenning wat die program lewer, geweldige bemarkingswaarde vir maatskappye/organisasies in.
'n Totaal van 231 finaliste en semi-finaliste is in 35 katergorieë bekend gemaak, wat wissel van gastehuise, selfsorg-akkommodasie en wildsplase tot die verskillende tipes in die hotelbedryf. Die kliënte se kommentaar oor aspekte soos diensvlakke, die gehalte van die fasiliteite, atmosfeer en spyseniering is hier in aanmerking geneem.
Sand sê al die inligting wat hulle van kliënte af terug ontvang het, hetsy positief of negatief, word aan die deelnemende instansies teruggestuur om bestuur by te staan in veral sekere aspekte van hulle operasionele bedrywighede te verbeter of bestaande hoë standaarde in stand te hou. Die toekenningsprogram is dus 'n baie doeltreffende instrument om op die kliënte se behoeftes te reageer.
ATKV-Buffelspoort, ATKV-Drakensville, ATKV-Goudini Spa, ATKV-Hartenbos en ATKV-Natalia is as semi-finaliste in Maart aangewys. Tydens 'n glansryke banket op 9 Mei 2010 in die stadsaal van Durban, is ATKV-Goudini Spa as kategorie wenner aangewys.
Die ATKV-groep oord is baie trots op hierdie toekenning en wil ook graag die AA Travel Guides American Express Accommodation Awards bedank vir hierdie toekennig.


[Bepalings en Voorwaardes]
|